May 30, 2012

Oor keuses; en keuses teen simplisme

Johan Swarts wys 'n oënskynlike teenstrydigheid in my beskouing uit. By een geleentheid haal ek Van Wyk Louw gunstig aan wanneer hy simplisme kritiseer; en by 'n ander sê ek in twee verskillende sinne dat ek dink dat die Universiteit van Stellenbosch voor bepaalde keuses staan.

Ek wou nie impliseer dat van Van Wyk Louw bedoel het dat daar nie keuses gemaak moet word nie, alleen dat hy meen dat die "kontinue en geleidelike werklikheid" nie "met growwe kwanta" afgemeet kan word nie.

Laat ek my twee sinne, waarna Johan verwys, herbesoek: die eerste een is wat my betref reg en die tweede een behoort ek te herskryf.

Sin 1: 
"Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?"
'n Regering is 'n soort organisasie wat in sy wese geneig is om die "kontinue en geleidelik werklikheid... met growwe kwanta" af te wil meet - daarvan is daar oorgenoeg voorbeelde, neem maar die gemonopoliseerde raskategorisering van die NP én die ANC. Om nader aan die regering te staan is dan om 'n groter blootstelling aan hierdie gevaar te loop. Daarom wys ek op die alternatief: dat die universiteit weg van hierdie rigiditeit bly, sodat die universiteit 'n moontlik alternatiewe hantering van die werklikheid kan uitbou.

Met Sin 1 was my bedoeling dus: óf eenvormige growwe kwanta, óf veelvoudige hanterings van die geleidelike werklikheid. Hierdie "óf" word in Van Wyk Louw se eie woorde geïmpliseer.

Sin 2:
"Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland?"
Ek sal dit herskryf as:
"Te oordeel aan studente-innamepatrone oor die laaste paar jaar lyk dit asof Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling word wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig,. Myns insiens moet ons onsself afvra: is dit nie verkieslik om eerder te of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en die koestering van dit 'n lojale nismark, met inagneming van die dorpsaard van Matieland, nie?"

May 29, 2012

Die moderne student in Die Matie

Peiling op Die Matie se webblad
Op Die Matie, studentekoerant by die Universiteit van Stellenbosch, se webblad verskyn daar tans 'n peiling: "Moet ras 'n rol speel in die toelatings- en plasingsbeleide [van die US]?"

Die deelnemers daaraan tel sowat 160 en die uitslag is oorweldigend "Nee", met 89%. 

Dit is nie verbasend dat studente weerstand begin bied teen versteende, staatsgedrewe raskategorieë nie. Dis verblydend en getuig van wat Van Wyk Louw voorgestel het as 'n Lewenshouding vir die Moderne Mens:
Elke dag word daar van die moderne mens geëis dat hy tussen eenvoudige leuses kies: hy moet pro-dit of anti-dat wees, "links" of "regs" (of, net so erg, "man van die middel"), gelowige of "ateïs", gemeenskapsmens of individualis. Die redelike en billike, die sin vir kontinuïteit en oorgange skyn geen tuiste aan weerskante te hê nie; hulle skuil verlate êrens in 'n gevaarlike niemandsland tussen die loopgrawe. 
Dit is 'n eeu van simplistiese denke; 'n eeu wat die kontinue en geleidelike werkliheid met growwe kwanta wil afmeet; alle nuanse, alle skakering moet vervang word deur skerp kontras: óf-óf, swart of wit, die filosofie van "niks-anders-as". [...] 
En die beste wat 'n mens dus kan behou in hierdie geweldige tyd [is] verder: 'n slaaplose agterdog teenoor alle stelsels of intellektuele konstruksies wat die spannings en die tragiek van die heelal wil wegredeneer of oplos.
N.P. van Wyk Louw
Ras, kultuur, gemeenskap - ja, dis dinge wat betekenisvol is, maar wat slegs bestaan as spontane verskynsels.  Om Adam Ferguson te parafraseer: dit bestaan vanweë menslike gedrag, maar nie na menslike ontwerp nie. Die verskillende uitings daarvan is nie presies definieerbaar nie - en nog minder is daar finale kriteria vir die bepaling van lidmaatskap. 

Daarom is dit so belangrik dat die definisie van hierdie spontane verskynsels nie gemonopoliseer word nie. As daar wél op grond van dinge soos ras, kultuur en gemeenskap onderskei word - en daar kan meriete hiervoor wees - moet daar asseblief tog 'n verskeidenheid van benaderings wees, eerder as net een definisie en een tragiese uitkoms, soos deur 'n regering gedikteer.

May 13, 2012

Nuwe US-koshuisplasingsbeleid

Die voorgestelde nuwe US-koshuisplasingsbeleid is in die nuus. Een van die voorstelle is dat studente met Afrikaans as huistaal tot 'n minderheid in koshuise beperk word, 'n ander is rassekwotas. Rapport haal my oor die saak aan.

Apr 3, 2012

Video-onderhoude met mediese studente

Die Burger berig vandag oor taalbeleid op die Tygerberg-kampus, en haal my aan.

STELLENBOSCH. – Die omstrede taalverslag oor die Tygerberg-kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) was nie bedoel om ’n omvangryke wetenskaplike verhandeling te wees nie.

Dit is eerder ’n verslag oor kwalitatiewe aspekte van die institusionele kultuur binne die fakulteit wat vorentoe aandag gaan verg, het mnr. Mohamed Shaikh, US-woordvoerder, gister gesê.

Die opsteller, me. Dianna Yach, beveel aan dat Engels die onderrig- en voertaal van die betrokke fakulteit moet wees.

Lees die volledige berig hier en sien die video van Die Burger se onderhoude met studente hier.

Mar 15, 2012

Uitslae bekend

Die uitslae vir die verkiesing van nuwe raadslede vir die US is bekend en ek is in kennis gestel dat ek verkies is. Die ander verkose kandidate is Prieur du Plessis en Koos Bekker. Vir 'n volledige berig, sien "US-raad kry twee nuwe lede" in vandag se Volksblad.

Baie dankie aan al die oud-Maties wat in die raadsverkiesing gestem het. Dankie vir die vertroue in my gestel, die boodskappe van ondersteuning en hulp met die verkiesing. My blog hier by pietleroux.blogspot.com gaan beskikbaar bly en ek sal probeer om dit met verloop van tyd te gebruik vir terugvoer oor sake met betrekking tot die US.

Mar 14, 2012

2012-verkiesing loop ten einde

Die 2012-verkiesing vir drie raadslede vir die Universiteit van Stellenbosch het op Dinsdag, 13 Maart om 16h00 gesluit. Dankie vir alle belangstelling en bydraes. Die uitslae word na verwagting in die week van 19 Maart bekendgemaak op die US se webblad by www.sun.ac.za.

Mar 12, 2012

Die nasionale bate-sindroom se totalitêre implikasies

Wat bedoel ʼn persoon wat sê: die Universiteit van Stellenbosch is ʼn nasionale bate? Want ek hoor dit dikwels – ek hoor dit veral wanneer iemand oor rassekwotas, taal, akademiese vryheid, of visie en missie van ʼn instelling soos die US praat.

Mag die US hoofsaaklik Afrikaans wees? “Nee, dis ʼn nasionale bate.

Wat moet die US se ideale rassesamestelling wees? “Volgens die nasionale demografie, want dis mos ʼn nasionale bate.

Lees die res van die artikel by www.vryestudent.com.

Mar 11, 2012

Stembus sluit Dinsdag, 16h00

Op Dinsdag, 13 Maart, om 16h00, sluit die stembus vir die US-raadsverkiesing. Die US-raad bepaal onder meer universiteitsbeleid oor sake soos taal en strategiese fokus. As jy 'n oud-Matie is, oorweeg asseblief om vir my te stem.

En herinner asseblief ander oud-Maties om dieselfde te doen.

Om dadelik te stem, gaan na: http://alumni.sun.ac.za/afrikaans/Pages/Raadsverkiesing.aspx

Feb 15, 2012

Brief aan oud-Maties

15 Februarie 2012
Beste Oud-Matie

Alle oud-Maties mag stem in die huidige verkiesing van lede van die Stellenbosse universiteitsraad. Ek staan as kandidaat en nooi jou graag om te oorweeg om vir my te stem, voor 13 Maart.

Die US-raad speel 'n bepalende rol in die lewenskrag en karakter van 'n Matieland wat ons na aan die hart lê. Enkele van die vrae wat oud-Maties myns insiens vir hierdie verkiesing behoort te oorweeg is:
  • Behou Stellenbosch die Afrikaanse kampuservaring en Afrikaanse voorgraadse onderrig waarvoor soveel Afrikaanse - en juis ook Engelse en ander Maties - oor die laaste eeu na Stellenbosch gekom het?
  • Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?
  • Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland?
Dit is in hierdie verband vir my aangenaam dat prof. Hermann Giliomee in 'n ope brief aan oud-Maties sy steun aan my kandidatuur toegesê het.

Nodeloos om te sê is dit my erns om die universiteit in sy geheel só te benader dat dit die invloedryke, eersteklas instelling bly waar my kinders, kinders van my mede-oud-Maties en 'n spektrum van nuwe Maties graag sal wil studeer en ontmoet. Benewens die belangrike beleidsvraagstukke, is ek dan ook bekwaam en ywerig om die omvattende oorsigverpligtinge van 'n raadslid deeglik na te kom.

Lees gerus my blog by pietleroux.blogspot.com vir inligting oor waar om te stem, my kandidatuur en meer besonderhede oor my rekord van betrokkenheid. In die loop van die volgende paar weke sal ek op díe blog uitbrei en reageer op navrae oor my standpunte, so laat weet gerus as jy vrae het.

Indien jy weet van ander oud-Maties wat in hierdie e-pos belang sal stel, is jy welkom om dit aan hulle te stuur.

Vriendelike groete.

Piet le Roux
Honneurs B.Comm. (Ekonomie) (2008)

Feb 12, 2012

Hier's 'n beter vraag

[Hierdie brief het oorspronklik in Die Burger van 11 Februarie 2012 verskyn. Ek reageer op hierdie brief.]

Dosent (DB, 09.02) reageer op ’n berig wat hy/sy klaarblyklik nie deurgelees het nie. Hy verwys na die berig “Meer as 60% van leerders verkies Engelse as medium van onderrig” (DB, 08.02) en maak dan die stelling dat studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) Engelse onderrig verkies. Nóg sy afleidings uit die berig nóg sy bewerings oor studentevoorkeure is korrek.

Die betrokke berig oor taalvoorkeure by Suid-Afrikaanse leerlinge gee juis erkenning aan die uitsondering van Afrikaans. “Na raming is Afrikaans 1,1 miljoen se huistaal, terwyl 1,3 miljoen dit as onderrigtaal verkies.” Só gesien, lyk dit selfs asof ’n beduidende groep Afrikaans-tweedetaalsprekers Afrikaans verkies.

In 2008 het wyle prof. Lawrie Schlemmer in ’n omvattende ondersoek onder studente in opdrag van die US-raad bevind dat “die beginsel van Afrikaans as leidende taal, met sterk toevoegings en/of addisionele lesings in Engels, die gewildste oplossings is wat in die opname-resultate verskyn”.

’n Veel beter vraag vir Dosent sou wees: “Wie van julle verkies voorgraads hoofsaaklik Afrikaanse onderrig op Stellenbosch bo hoofsaaklik Engelse onderrig aan die Universiteit van Kaapstad?” Die antwoord laat derduisende Engels-eerstetaal-Maties al die afgelope eeu na ’n verwelkomende, hoofsaaklik Afrikaanse, US stroom.

Piet le Roux
Pretoria

Feb 10, 2012

Aanbeveling deur Hermann Giliomee

Februarie 2012
Beste Oud-Matie

Ek neem die vrymoedigheid om die volgende drie kandidate vir die komende verkiesing van Raadslede van die Universiteit van Stellenbosch (US) by u aan te beveel om vakatures op die US-Raad te vul. Alle gradueerde oud-studente en donateurs van die US mag vanaf 9 Februarie op die universiteitswebblad (direkte skakel) stem. Stemming sluit op 13 Maart om 16h00.

Ek vra u ook vriendelik om hierdie brief aan al u vriende en kennisse te stuur wat as alumni en donateurs stemgeregtig is en hulle aan te moedig om te stem. Saam kan ons dit doen as elkeen hierdie e-pos aan ten minste vyf e-posadresse stuur.

Raadslede wat verkies moet word deur die Konvokasie
  • Ainsley Moos (Redakteur: Volksblad)
  • Piet le Roux (Solidariteit)
  • Koos Bekker (Naspers)
Mnr. Jannie Durand van die Remgro-groep, wat ek ook graag sou aanbeveel, saam met bogenoemde drie, is reeds onbestrede verkies tot US-Raadslid deur die Donateurs.

Die aanbevole kandidate het nie gevra dat hul kandidatuur op hierdie wyse bevorder word nie en ek wil ook geensins te kenne gee dat hulle oor die kwessie van Afrikaans as onderrigmedium aan die US presies dieselfde mening huldig as die een wat ek al in die openbaar uitgespreek het nie. Ek het die kwessie wel met ʼn aantal mense bespreek wat die belange van die universiteit op die hart dra.

Ek is daarvan oortuig dat die bogenoemde persone hulle uitstekend van hul taak as Raadslede sal kwyt. Bo en benewens die voertaalkwessie is daar verskeie ander aktuele aangeleenthede, soos transformasie, die outonomie van die universiteite en finansiële verantwoordbaarheid, die uitbou van die US as universiteit van internasionale gehalte met Afrikaans as voertaal, ens., wat kundige toesig deur die Raad vereis. Ek glo dat die aanbevole kandidate in al die gevalle ʼn belangrike bydrae sal kan maak.
Soos voor die verkiesings van 2008 en 2010 gee ek in hierdie skrywe ʼn kort oorsig van die stand van Afrikaans aan die US, wat vir talle alumni ʼn belangrike saak is.

Dit wil soms voorkom of die stryd om aan Afrikaansmedium-onderrig aan die US ʼn vaste en volwaardige plek te gee nie beslissend afgehandel kan word nie. Sedert 2006 beywer Konvokasie- en Donateursverkose Raadslede hulle vir so ʼn beleid en tog wys die openbare“telbord” tot dusver geen wesenlike vordering nie.

Tussen 2004 en 2011 het die A-opsiemodules (die voorlesing geskied in Afrikaans) as ʼn proporsie van die voorgraadse aanbod afgeneem van ongeveer 75 persent tot 37 persent. Die syfervan 37 persent is net moontlik gemaak omdat in drie fakulteite (Ingenieurswese,Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Opvoedkunde) Afrikaansmedium-onderrig nog sterk staan. In die ses ander fakulteite is die gemiddelde blootstelling van studente aan die A-opsie modules minder as10 persent – in sommige gevalle nul.

Dubbelmedium (Afrikaans en Engels in dieselfde klas, oftewel die sogenaamde T-opsie) word in ongeveer die helfte vanal die kursusse voorgraads gebruik. Dit is ʼn onderrigmodus wat nie deur gerespekteerde universiteite in Europa of die VSA gebruik word nie. Dit lei onafwendbaar tot die uitfasering van die kleiner taal (in die US-geval Afrikaans).

Jean Laponce, ʼn gesiene Kanadese taalkenner, het gewaarsku dat as huidige tendense nie omgedraai word nie Afrikaans aan Stellenbosch oor die medium tot lang termyn verplaas sal word. Soos hy dit stel: “The system is to the advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.”

Desondanks was daar oor die afgelope jaar aan die US tog aansienlike vordering in die verwesenliking van die doelwit om Afrikaansmedium as die vernaamste voertaalopsie te vestig.
  • ʼn Regsmening het voor die US-Raad gedien dat die oordeelkundige gebruik van Afrikaansmedium nie ongrondwetlik is nie en dié mening is ook duidelik in die pers uitgespel deur Jan Heunis, ʼn huidige Konvokasie-verkose US-Raadslid en visepresident van die Konvokasie, wie se termyn eers in 2014 verstryk.
  • Die US-Konvokasie het by sy vergadering in November 2011 met ʼn oorweldigende meerderheid ʼn mosie aanvaar waarin die US-Raad gevra word dat daar “dringend ʼn volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite verskaf word en indien daar desnoods ook ʼn Engelse aanbod gedoen word dit deur tolking of parallelmedium geskied.”
  • Twaalf Afrikaanse organisasies met ʼn gesamentlike ledetal van meer as 500 000 ingeskrewe lede, insluitende die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het hierdie mosie gesteun.
  • ʼn Opname van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie in agt provinsies het gevind dat die behoefte aan Afrikaans as opleidingsmedium op universiteitsvlak gewissel het van 100% tot 77% met ʼn geweegde gemiddelde van 87%. Die bevinding strook met die een in die 2007 Schlemmer-opname onder voorgraadse studente aan die US. Daarvolgens was“hoofsaaklik Afrikaansmedium” die opsie wat die meeste Afrikaanse studente verkies (meer as 80%).
  • In ʼn TV-onderhoud op 13 November 2011 op “Robinson Regstreeks” het die US-Rektor verklaar: “Daar is geen twyfel nie, ʼn student wat na US kom, kan in sy taal studeer.” Dit is nog onduidelik of dit beteken in die T-opsiemetode (wat wesenlik onmoniteerbaar is) of in Afrikaansmedium of by wyse van simultane tolkdienste.
  • Die US-Raad het ʼn verslag aanvaar waarin die meer uitgebreide gebruik van simultane tolkdienste aanbeveel word. Die Raadslede verkies deur die Konvokasie en Donateurs kan sorg dat die wyer instel van tolkdienste en die monitering daarvan op die mees doeltreffende wyse geskied.
  • Die opvoedkundige Marie Heese (ʼn voormalige Konvokasie-verkose Raadslid), het in ʼn gesaghebbende artikel in Die Burger aangetoon dat daar eenstemmigheid onder voorste pedagoë is dat moedertaal-onderrig, ook op universiteitsvlak, die doeltreffendste is.
Die stryd is nog lank nie verby nie, maar ons glo dat ʼn keerpunt in sig is. Dit is nodig om bekwame Raadslede te kies om hulle by ander Raadslede te voeg om seker te maak dat Afrikaans sy regmatige plek aan die US beklee en dat die US onder die top universiteite in die land bly en sy internasionale aansien verder uitgebou word.

Ek vra u dus met 'n oop gemoed om te gaan stem omdat u stem ʼn wesenlike verskil kan maak. Hoe groter die aantal stemme in die verkiesings vir die kandidate uit die Konvokasie en Donateurs, hoe swaarder die gewig van hierdie mense op die US-Raad.

Indien u per stembrief wil stem en teen 24 Februarie nog geen stembrief vanaf die Universiteit ontvang het nie, kontak asseblief die registrateurskantoor by 021 808 9398.

Ek sluit af met die woorde van Koos Bekker in sy bydrae tot groot polemiek in Die Burger in Oktober 2005 oor Afrikaansmedium as voertaal aan die US. Hy het die vraag gestel: “Op wie kan Afrikaans vertrou?” Sy antwoord was: “Op gewone mense soos die Konvokasie en sommige studente.”

Vriendelike groete.

Hermann Giliomee
(US-Raadslid, 2006-2010, verkies deur die Konvokasie)