May 30, 2012

Oor keuses; en keuses teen simplisme

Johan Swarts wys 'n oënskynlike teenstrydigheid in my beskouing uit. By een geleentheid haal ek Van Wyk Louw gunstig aan wanneer hy simplisme kritiseer; en by 'n ander sê ek in twee verskillende sinne dat ek dink dat die Universiteit van Stellenbosch voor bepaalde keuses staan.

Ek wou nie impliseer dat van Van Wyk Louw bedoel het dat daar nie keuses gemaak moet word nie, alleen dat hy meen dat die "kontinue en geleidelike werklikheid" nie "met growwe kwanta" afgemeet kan word nie.

Laat ek my twee sinne, waarna Johan verwys, herbesoek: die eerste een is wat my betref reg en die tweede een behoort ek te herskryf.

Sin 1: 
"Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?"
'n Regering is 'n soort organisasie wat in sy wese geneig is om die "kontinue en geleidelik werklikheid... met growwe kwanta" af te wil meet - daarvan is daar oorgenoeg voorbeelde, neem maar die gemonopoliseerde raskategorisering van die NP én die ANC. Om nader aan die regering te staan is dan om 'n groter blootstelling aan hierdie gevaar te loop. Daarom wys ek op die alternatief: dat die universiteit weg van hierdie rigiditeit bly, sodat die universiteit 'n moontlik alternatiewe hantering van die werklikheid kan uitbou.

Met Sin 1 was my bedoeling dus: óf eenvormige growwe kwanta, óf veelvoudige hanterings van die geleidelike werklikheid. Hierdie "óf" word in Van Wyk Louw se eie woorde geïmpliseer.

Sin 2:
"Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland?"
Ek sal dit herskryf as:
"Te oordeel aan studente-innamepatrone oor die laaste paar jaar lyk dit asof Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling word wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig,. Myns insiens moet ons onsself afvra: is dit nie verkieslik om eerder te of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en die koestering van dit 'n lojale nismark, met inagneming van die dorpsaard van Matieland, nie?"

No comments:

Post a Comment