Oct 14, 2005

Petisie aan die Raad van die US

Petisie aan die Raad van die US
Vir aandag: die Rektor, prof Chris Brink
14 Oktober 2005
Doel van petisie
Om studente- en personeelsteun te toon met betrekking tot
  • die bevordering van Afrikaans as basiese onderrig- en institusionele taal aan die US binne ‘n meertalige konteks;
  • die bemagtiging van sowel Afrikaans- as nie-Afrikaanssprekendes in Afrikaans vir akademiese –, sosiale – en beroepsdoeleindes.
Verklaring
Die ondertekenaars van hierdie petisie spreek hul besorgdheid uit oor die groot verwarring rondom die US se taalbeleid en vra dat teruggekeer word na Afrikaans as basiese onderrigtaal met inagneming van die volgende:
  1. dat die US terugkeer na sy verbintenis tot die behoud en uitbou van Afrikaans as primêre onderrigtaal.  Dit is duidelik gestel in die opsomming van die Taalbeleid en -plan wat vanjaar aan alle nuwelingstudente tydens registrasie uitgedeel is.  Die omskrywing van die T-taalspesifikasie in die Taalplandokument (p.3) onderskryf hierdie verbintenis: “Die T-taalspesifikasie word veral aangewend om studente met Engels as huistaal of voorkeurtaal stelselmatige blootstelling te gee aan Afrikaanse vaktaal sodat hulle op tweedejaarvlak optimaal ... kan studeer  in modules met ‘n A-taalspesifikasie.”
    Die besluit van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte om die T-opsie in 2006 deur te voer
    tot op derdejaarvlak is opvallend teenstrydig met hierdie doelstelling.  Verder word ook nie naastenby al die riglyne vir die motivering van die T-opsie (pp. 4 en 5) gevolg nie.
    Ons versoek dringend dat die Fakulteit streng by hierdie doelstelling en riglyne bly.
  2. dat die US meertaligheid bevorder deur tolkdienste in te stel in die US-vergaderings soos benodig, sodat daar oor taalgrense heen effektief gekommunikeer kan word en Afrikaans terselfdertyd haar status behou;
  3. dat die US van 2006 af hul bestaande maar ontoereikende taalsteundiens dringend uitbrei na alle fakulteite.  Dit moet gedoen word deur die insluiting van kredietdraende taal- en kommunikasiemodules in die eerste studiejaar van studente met onvoldoende taalvaardigheid in Afrikaans en/of Engels (soos bepaal deur ‘n Taalvaardigheidstoets).  Nie-Afrikaanse studente wat egter geen of baie min Afrikaans  praat, moet in meer as net een studiejaar taalsteun ontvang weens hul groot agterstand in akademiese taalvaardigheid.
Byvoorbaat dankie vir u aandag aan hierdie uiters belangrike saak.

Besorgde US-studente en -personeel 

[Nota: 3500 Studente en personeel het hierdie petisie binne agt dae onderteken. Dit was kort voor die eindeksamen in 2005 deur drie ander studente en ek van stapel gestuur, met die hulp van nog 'n aantal studente.]