May 29, 2012

Die moderne student in Die Matie

Peiling op Die Matie se webblad
Op Die Matie, studentekoerant by die Universiteit van Stellenbosch, se webblad verskyn daar tans 'n peiling: "Moet ras 'n rol speel in die toelatings- en plasingsbeleide [van die US]?"

Die deelnemers daaraan tel sowat 160 en die uitslag is oorweldigend "Nee", met 89%. 

Dit is nie verbasend dat studente weerstand begin bied teen versteende, staatsgedrewe raskategorieë nie. Dis verblydend en getuig van wat Van Wyk Louw voorgestel het as 'n Lewenshouding vir die Moderne Mens:
Elke dag word daar van die moderne mens geëis dat hy tussen eenvoudige leuses kies: hy moet pro-dit of anti-dat wees, "links" of "regs" (of, net so erg, "man van die middel"), gelowige of "ateïs", gemeenskapsmens of individualis. Die redelike en billike, die sin vir kontinuïteit en oorgange skyn geen tuiste aan weerskante te hê nie; hulle skuil verlate êrens in 'n gevaarlike niemandsland tussen die loopgrawe. 
Dit is 'n eeu van simplistiese denke; 'n eeu wat die kontinue en geleidelike werkliheid met growwe kwanta wil afmeet; alle nuanse, alle skakering moet vervang word deur skerp kontras: óf-óf, swart of wit, die filosofie van "niks-anders-as". [...] 
En die beste wat 'n mens dus kan behou in hierdie geweldige tyd [is] verder: 'n slaaplose agterdog teenoor alle stelsels of intellektuele konstruksies wat die spannings en die tragiek van die heelal wil wegredeneer of oplos.
N.P. van Wyk Louw
Ras, kultuur, gemeenskap - ja, dis dinge wat betekenisvol is, maar wat slegs bestaan as spontane verskynsels.  Om Adam Ferguson te parafraseer: dit bestaan vanweë menslike gedrag, maar nie na menslike ontwerp nie. Die verskillende uitings daarvan is nie presies definieerbaar nie - en nog minder is daar finale kriteria vir die bepaling van lidmaatskap. 

Daarom is dit so belangrik dat die definisie van hierdie spontane verskynsels nie gemonopoliseer word nie. As daar wél op grond van dinge soos ras, kultuur en gemeenskap onderskei word - en daar kan meriete hiervoor wees - moet daar asseblief tog 'n verskeidenheid van benaderings wees, eerder as net een definisie en een tragiese uitkoms, soos deur 'n regering gedikteer.

No comments:

Post a Comment