Feb 12, 2012

Hier's 'n beter vraag

[Hierdie brief het oorspronklik in Die Burger van 11 Februarie 2012 verskyn. Ek reageer op hierdie brief.]

Dosent (DB, 09.02) reageer op ’n berig wat hy/sy klaarblyklik nie deurgelees het nie. Hy verwys na die berig “Meer as 60% van leerders verkies Engelse as medium van onderrig” (DB, 08.02) en maak dan die stelling dat studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) Engelse onderrig verkies. Nóg sy afleidings uit die berig nóg sy bewerings oor studentevoorkeure is korrek.

Die betrokke berig oor taalvoorkeure by Suid-Afrikaanse leerlinge gee juis erkenning aan die uitsondering van Afrikaans. “Na raming is Afrikaans 1,1 miljoen se huistaal, terwyl 1,3 miljoen dit as onderrigtaal verkies.” Só gesien, lyk dit selfs asof ’n beduidende groep Afrikaans-tweedetaalsprekers Afrikaans verkies.

In 2008 het wyle prof. Lawrie Schlemmer in ’n omvattende ondersoek onder studente in opdrag van die US-raad bevind dat “die beginsel van Afrikaans as leidende taal, met sterk toevoegings en/of addisionele lesings in Engels, die gewildste oplossings is wat in die opname-resultate verskyn”.

’n Veel beter vraag vir Dosent sou wees: “Wie van julle verkies voorgraads hoofsaaklik Afrikaanse onderrig op Stellenbosch bo hoofsaaklik Engelse onderrig aan die Universiteit van Kaapstad?” Die antwoord laat derduisende Engels-eerstetaal-Maties al die afgelope eeu na ’n verwelkomende, hoofsaaklik Afrikaanse, US stroom.

Piet le Roux
Pretoria

No comments:

Post a Comment