May 30, 2012

Oor keuses; en keuses teen simplisme

Johan Swarts wys 'n oënskynlike teenstrydigheid in my beskouing uit. By een geleentheid haal ek Van Wyk Louw gunstig aan wanneer hy simplisme kritiseer; en by 'n ander sê ek in twee verskillende sinne dat ek dink dat die Universiteit van Stellenbosch voor bepaalde keuses staan.

Ek wou nie impliseer dat van Van Wyk Louw bedoel het dat daar nie keuses gemaak moet word nie, alleen dat hy meen dat die "kontinue en geleidelike werklikheid" nie "met growwe kwanta" afgemeet kan word nie.

Laat ek my twee sinne, waarna Johan verwys, herbesoek: die eerste een is wat my betref reg en die tweede een behoort ek te herskryf.

Sin 1: 
"Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?"
'n Regering is 'n soort organisasie wat in sy wese geneig is om die "kontinue en geleidelik werklikheid... met growwe kwanta" af te wil meet - daarvan is daar oorgenoeg voorbeelde, neem maar die gemonopoliseerde raskategorisering van die NP én die ANC. Om nader aan die regering te staan is dan om 'n groter blootstelling aan hierdie gevaar te loop. Daarom wys ek op die alternatief: dat die universiteit weg van hierdie rigiditeit bly, sodat die universiteit 'n moontlik alternatiewe hantering van die werklikheid kan uitbou.

Met Sin 1 was my bedoeling dus: óf eenvormige growwe kwanta, óf veelvoudige hanterings van die geleidelike werklikheid. Hierdie "óf" word in Van Wyk Louw se eie woorde geïmpliseer.

Sin 2:
"Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland?"
Ek sal dit herskryf as:
"Te oordeel aan studente-innamepatrone oor die laaste paar jaar lyk dit asof Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling word wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig,. Myns insiens moet ons onsself afvra: is dit nie verkieslik om eerder te of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en die koestering van dit 'n lojale nismark, met inagneming van die dorpsaard van Matieland, nie?"

May 29, 2012

Die moderne student in Die Matie

Peiling op Die Matie se webblad
Op Die Matie, studentekoerant by die Universiteit van Stellenbosch, se webblad verskyn daar tans 'n peiling: "Moet ras 'n rol speel in die toelatings- en plasingsbeleide [van die US]?"

Die deelnemers daaraan tel sowat 160 en die uitslag is oorweldigend "Nee", met 89%. 

Dit is nie verbasend dat studente weerstand begin bied teen versteende, staatsgedrewe raskategorieë nie. Dis verblydend en getuig van wat Van Wyk Louw voorgestel het as 'n Lewenshouding vir die Moderne Mens:
Elke dag word daar van die moderne mens geëis dat hy tussen eenvoudige leuses kies: hy moet pro-dit of anti-dat wees, "links" of "regs" (of, net so erg, "man van die middel"), gelowige of "ateïs", gemeenskapsmens of individualis. Die redelike en billike, die sin vir kontinuïteit en oorgange skyn geen tuiste aan weerskante te hê nie; hulle skuil verlate êrens in 'n gevaarlike niemandsland tussen die loopgrawe. 
Dit is 'n eeu van simplistiese denke; 'n eeu wat die kontinue en geleidelike werkliheid met growwe kwanta wil afmeet; alle nuanse, alle skakering moet vervang word deur skerp kontras: óf-óf, swart of wit, die filosofie van "niks-anders-as". [...] 
En die beste wat 'n mens dus kan behou in hierdie geweldige tyd [is] verder: 'n slaaplose agterdog teenoor alle stelsels of intellektuele konstruksies wat die spannings en die tragiek van die heelal wil wegredeneer of oplos.
N.P. van Wyk Louw
Ras, kultuur, gemeenskap - ja, dis dinge wat betekenisvol is, maar wat slegs bestaan as spontane verskynsels.  Om Adam Ferguson te parafraseer: dit bestaan vanweë menslike gedrag, maar nie na menslike ontwerp nie. Die verskillende uitings daarvan is nie presies definieerbaar nie - en nog minder is daar finale kriteria vir die bepaling van lidmaatskap. 

Daarom is dit so belangrik dat die definisie van hierdie spontane verskynsels nie gemonopoliseer word nie. As daar wél op grond van dinge soos ras, kultuur en gemeenskap onderskei word - en daar kan meriete hiervoor wees - moet daar asseblief tog 'n verskeidenheid van benaderings wees, eerder as net een definisie en een tragiese uitkoms, soos deur 'n regering gedikteer.

May 13, 2012

Nuwe US-koshuisplasingsbeleid

Die voorgestelde nuwe US-koshuisplasingsbeleid is in die nuus. Een van die voorstelle is dat studente met Afrikaans as huistaal tot 'n minderheid in koshuise beperk word, 'n ander is rassekwotas. Rapport haal my oor die saak aan.

Apr 3, 2012

Video-onderhoude met mediese studente

Die Burger berig vandag oor taalbeleid op die Tygerberg-kampus, en haal my aan.

STELLENBOSCH. – Die omstrede taalverslag oor die Tygerberg-kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) was nie bedoel om ’n omvangryke wetenskaplike verhandeling te wees nie.

Dit is eerder ’n verslag oor kwalitatiewe aspekte van die institusionele kultuur binne die fakulteit wat vorentoe aandag gaan verg, het mnr. Mohamed Shaikh, US-woordvoerder, gister gesê.

Die opsteller, me. Dianna Yach, beveel aan dat Engels die onderrig- en voertaal van die betrokke fakulteit moet wees.

Lees die volledige berig hier en sien die video van Die Burger se onderhoude met studente hier.

Mar 15, 2012

Uitslae bekend

Die uitslae vir die verkiesing van nuwe raadslede vir die US is bekend en ek is in kennis gestel dat ek verkies is. Die ander verkose kandidate is Prieur du Plessis en Koos Bekker. Vir 'n volledige berig, sien "US-raad kry twee nuwe lede" in vandag se Volksblad.

Baie dankie aan al die oud-Maties wat in die raadsverkiesing gestem het. Dankie vir die vertroue in my gestel, die boodskappe van ondersteuning en hulp met die verkiesing. My blog hier by pietleroux.blogspot.com gaan beskikbaar bly en ek sal probeer om dit met verloop van tyd te gebruik vir terugvoer oor sake met betrekking tot die US.

Mar 14, 2012

2012-verkiesing loop ten einde

Die 2012-verkiesing vir drie raadslede vir die Universiteit van Stellenbosch het op Dinsdag, 13 Maart om 16h00 gesluit. Dankie vir alle belangstelling en bydraes. Die uitslae word na verwagting in die week van 19 Maart bekendgemaak op die US se webblad by www.sun.ac.za.

Mar 12, 2012

Die nasionale bate-sindroom se totalitêre implikasies

Wat bedoel ʼn persoon wat sê: die Universiteit van Stellenbosch is ʼn nasionale bate? Want ek hoor dit dikwels – ek hoor dit veral wanneer iemand oor rassekwotas, taal, akademiese vryheid, of visie en missie van ʼn instelling soos die US praat.

Mag die US hoofsaaklik Afrikaans wees? “Nee, dis ʼn nasionale bate.

Wat moet die US se ideale rassesamestelling wees? “Volgens die nasionale demografie, want dis mos ʼn nasionale bate.

Lees die res van die artikel by www.vryestudent.com.